Gehoorsaamheid aan die Woord
Die afgelope aantal maande het die kwessie van gehoorsaamheid aan God, deur die openbaring van Heilige Gees, vir my al hoe duideliker en duideliker begin word. Ons het so gewoond geraak daaraan om maar net die Woord van God te hoor, Sondag vir Sondag, dat ons nie meer werklik besef dat dit ook elke dag van die res van die week uitgeLEEF moet word, GEDOEN moet word nie! Dat ons Hemelse Vader ‘n ABSOLUTE, ONVERANDERLIKE realiteit en nie net ‘n godsdienstige mite-figuur is nie! Dat ons die hele Bybel werklik LETTERLIK én GEESTELIK kan en mag opneem! Regtig nét SOOS KINDERTJIES! Vroeg-vroeg lees ons al in die Bybel, in Levitikus 18:4-5 :
“My verordeninge MOET julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek is die Here julle God. HOU dan my insettinge en my verordeninge wat die mens MOET DOEN, dat hy daardeur kan lewe. Ek is die Here.”
Ek weet die argument sal nou wees dat hierdie gedeelte Ou Testamenties is, en verwys na die “wet”, wat nie meer na die letter op ons van toepassing is nie, maar wel net in die Gees, omdat dit nou op ons harte geskrywe is. Wel, in daardie geval, kom ons gaan kyk wat sê Jakobus in die Nuwe Testament oor hierdie aspek, en meer spesifiek in Jakobus 1:22-25 :
“En word daders van die woord en NIE net hoorders wat julleself bedrieg nie. Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, die is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly , hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy DOEN.”
En kyk wat sê Lukas 6:46 :
“En wat noem julle My: Here, Here! En DOEN nie wat Ek sê nie? ”
Of terug na Jakobus in Jakobus 2:14 en 17 :
“Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Díé geloof kan hom tog nie red nie?… Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. ”
Johannes verwys ook daarna in 1 Johannes 3:18 :
“My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die DAAD en in waarheid. ”
Dit is dus baie duidelik dat daardie opdrag om gehoorsaam te wees aan AL sy verordeninge, wat reeds vroeg in die Bybel opgeteken is, BESLIS vandag nog op ons van toepassing is. En nie net na die letter van toepassing is op ons hedendaagse lewens nie, maar ook werklik UITGELEEF moet word, GEDOEN moet word! Die Bybel is vol geloofsbeginsels wat van ons vereis om dit uit te leef, om dit werklik te doen! As God vir ons sê om op te hou met iets, moet ons OPHOU daarmee. As Hy sê ons moet breek met die ou mens, moet ons BREEK daarmee. Sê Hy werklik so iets? Ja, inderdaad. Kyk net na Efesiërs 4:22-24 :
“…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die OUE MENS moet AFLÊ wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die NUWE MENS moet BEKLEE wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.”
Is dit moeilik om so met die ou mens te breek, om die “vorige lewenswandel” af te lê? Dit klink tog so vir my of dit baie moeilik moet wees om “in ware geregtigheid en heiligheid” te lewe? Nee, liewe vriend, INTEENDEEL! Dis so maklik soos gee jou hart vir die Here met ‘n eenvoudige gebed, sodat jy daardeur WEDERGEBORE kan word, soos Jesus dit duidelik aan Nikodemus uitgewys het in Johannes 3:3-5, wat dan onmiddellik daardie persoonlike verhouding met God gaan meebring, en wat onmiddellik gaan meebring dat die liefde van Jesus in jou, jou gaan begin lei om daadwerklik met daardie “ou” dinge op te hou. Dit is werklik só maklik!
Mag Jesus jou seën op ‘n nuwe gehoorsaamheidspad saam met Hom.